Die Departement Afrikaans en Nederlands was een van die eerste Afrikaanse departemente in die land. Die destydse hoof van die departement was prof HJJM van der Merwe, 'n bekende taalkundige. In die tagtigerjare is die departement se naam verander na die Departement Afrikaans. Hierdie departement het in 2002 met die Departement Algemene Literatuurwetenskap saamgesmelt, waardeur die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap tot stand gekom het. Tans het die departement ongeveer 15 000 Afrikaanse studente. Die huidige hoof van die departement is prof. PR Northover. Die hoof van Afrikaans Taalkunde is dr. TR Rodrigues en dr. E Lemmer is die hoof van Afrikaans Letterkunde.
Prof RA Northover
Chair of Department
Welkom by die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap
Baie welkom by ons in die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap.
Ons departement is ’n federale departement wat drie dissiplines huisves: Algemene Literatuurwetenskap, Afrikaanse Taalkunde en Afrikaanse Letterkunde. Ons is die grootste departement in Suid-Afrika van sy soort en ons bied ’n wye reeks aktuele kwaliteitsopsies in hierdie spesifieke dissiplines aan. Ons leerplanne is dinamies in die sin dat ons voortdurend ons pedagogiese benaderings aanpas by ons studente se leefwêrelde. Oor die jare heen het ons die programme ook hersien om markverwant te bly: of jy nou Afrikaans as addisionele taal wil aanleer, of teksontwerp (soos hoe om gesondheidstekste te ontwikkel) wil bestudeer, of ekokritiek of genrestudies wil verken – ons bied aan jou al daardie opsies.
Ons spog boonop met ’n program in Kreatiewe Skryfwerk waar studente toegerus word om kreatiewe skrywers te wees in die genre van hulle keuse. In 2023 het ons derdevlakstudente in die program juis ’n eerste versameling met gedigte en kortverhale die lig laat sien.
Ons beskik oor ’n toegewyde span van ontwikkelende en gevestigde akademici met ’n passie vir kennisproduksie in hulle onderskeie vakgebiede. Ons senior personeel word hoog aangeslaan as navorsers met hulle magdom kennis en ervaring. Ons modules word spesifiek ontwerp om kritiese insigte te bied in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse taal- en letterkunde. Ons wil studente slyp om ondersoekende en kritiese denkers te wees wat die Afrikaanse taal- en letterkunde in Afrika bevraagteken, vorm en verruim. Die departement bied ‘n opwindende akademiese ruimte waar ons ʼn diepe waardering vir letterkunde en taalverskeidenheid bevorder.
Ons roem ons verder daarop dat ons individuele studenteondersteuning bied en het reeds talle multimodale hulpbronne ontwikkel om ons studente by te staan op hulle akademiese reis.
Ons sien regtig uit daarna om hierdie opwindende reis saam met elkeen van julle te onderneem. Ons is immers ’n departement binne ʼn universiteit wat “in the service of humanity” staan.